|
Vraag na kantore in Sandton is ongekend
Date published 23 February 2008
'n Kunstenaarsvoorstelling van die uitbreidings wat Nedbank by sy hoofkantoor in Sandton beplan.
Sandton is besig om die finansiële hoofstad van Afrika te word, en die vraag na kantoorruimte in die gebied is besig om ongekende afmetings aan te neem.
Talle nuwe ontwikkelings word tans vir die gebied beplan, maar ontleders meen dat al die ruimte sonder veel moeite verhuur sal word – en dat huurgeld in die gebied in die afsienbare tyd skerp sal styg.
Dit is om dié rede dat Nedbank besluit het om sy hoofkantoor in die gebied teen ’n koste van R1,2 miljard uit te brei, deur nog 60 000 vk.m se ruimte by die bestaande kompleks te voeg.
Daar is veral twee redes waarom Sandton deesdae besig is om in die finansiële hoofstad van Suid-Afrika – en die res van Afrika – te verander.
“Met soveel groot finansiële instellings reeds in Sandton, is dit belangrik vir enige onderneming wat iets met finansiële dienste te doen het, om ook in die gebied te wees.
“En die koms van die Gautrein, met ’n belangrike stasie in Sandton se sentrale sakegebied, sal die gebied in die toekoms ook baie meer toeganklik vir werkers en besoekers wees,” sê me. Fran Teagle, ’n direkteur van die Broll-groep se kommersiële afdeling.
Die Broll-groep is groot makelaars van kommersiële eiendom in Suid-Afrika.
Sy sê oorsese maatskappye verkies ook om in Sandton te wees.
Hoe sterk die vraag na ruimte in Sandton is, blyk uit die feit dat die persentasie leë ruimte in die gebied van 19,4% in September 2006 tot net 7,6% afgeneem het.
En die meeste van die ruimte is B-graadruimte, wat beteken dat daar feitlik geen luukse of A-graadruimte beskikbaar is nie.
Dit is om dié rede dat Nedbank besluit het om uitbreidings aan sy hoofkantoor te onderneem om te verseker dat hy in die toekoms genoeg kantoorruimte vir sy personeel beskikbaar sal hê.
Mnr. Ken Reynolds van Nedbank se eiendomsafdelings sê die bank se eie ramings dui daarop dat hy teen die einde van 2009 nog 26 000 vk.m se kantoorruimte vir sy eie behoeftes nodig sal hê.
Die bank huur tans ook 19 000 vk.m se ruimte elders in Sandton, wat hoofsaaklik B- en C-graadruimte is, maar daar is ’n wesentlike gevaar dat die eienaars van die ruimte die kontrakte kan opsê en die geboue opknap of herontwikkel om in die groeiende vraag na uitsoekruimte te voorsien.
Daar is reeds heelwat ontwikkelings in Sandton aan die gang, of word beplan.
Reynolds verwag dat daar binne die volgende twee tot drie jaar tussen 200 000 en 400 000 vk.m se ruimte beskikbaar sal raak.
’n Peiling wat Broll gedoen het, dui daarop dat projekte met 600 000 vk.m se ruimte in verskillende stadiums van beplanning of oprigting is.
Teagle verwag egter nie dat die ontwikkelaars gaan sukkel om die ruimte te verhuur nie.
Sy verwag dat daar veral ’n sterk vraag van rekenmeesters en prokureurs sal wees, terwyl maatskappye wat saamsmelt ook groter kantore met ’n gesentraliseerde rekenaarsentrum nodig sal hê.
“Huurkontrakte word nou reeds gesluit vir geboue wat nog opgerig moet word.
Die meeste van die nuwe ontwikkelings wat beplan word, is hoë geboue wat vir gemengde gebruik bedoel is, omdat die sterk vraag na kantoorruimte ook tot ’n vraag na verblyf in die gebied lei.
Dit beteken dat die meeste nuwe ontwikkelings benewens kantoorruimte ook ruimte vir winkels en residensiële eenhede beskikbaar sal hê.
Die uitbreidings wat Nedbank beplan, maak ook voorsiening vir 5 116 vk.m se winkelruimte en 152 luukse woonstelle wat saam meer as 22 000 vk.m sal beslaan.
Reynolds sê daar is ’n baie sterk vraag na luukse woonstelle in Sandton van mense wat naby die werk wil bly.
Die woonstelle sal op ’n deeltitelgrondslag vir pryse van tussen R3 miljoen en R25 miljoen verkoop word.
Hy sê daar is reeds ’n waglys van potensiële kopers.
Volgens Teagle gaan feitlik al die nuwe uitsoek-geboue hul eie kragopwekkers hê en selfs hul eie reserwe-watertenks.
Hoë grondpryse, stygende boukoste en bykomende vereistes van huurders maak nuwe ontwikkelings egter duur en huurders sal daarvoor in die vorm van hoër huurgeld moet opdok.
A-graadruimte word reeds vir sowat R125 per vierkante meter verhuur en Teagle verwag dat huurgeld teen 2010 tussen R175 en R210 per vierkante meter sal beloop.
Author: Rapport
|